Nic de Jager, RSG broadcaster

Frederik Nicolaas de Jager, algemeen bekend as Nic, is onlangs tydens die radiotoekennings by die Heldesaal ingehuldig. Hy vier vanjaar sy 83ste verjaarsdag maar klink soos ‘n pragtige deuntjie op lug. Hy was een van die eerste uitsaaiers toe die SAUK in Commissionerstraat, sentraal Johannesburg geleë was. Nic het in die 1960’s by die openbare uitsaaier aangesluit en was een van die goue stemme van die mees gewilde vervolgverhale in die 1970’s. Hy was ook ‘n baie suksesvolle film- en televisie-akteur aan die beginjare van Suid-Afrikaanse televisie, met meer as 10 produksies op sy kerfstok. Verder was hy een van die eerste televisienuuslesers by die SAUK.

Tussen 1966 en 1974 was Nic ‘n aanbieder en vervaardig by die Afrikaanse diens en tot vandag toe bied hy uitsekende radioprogramme aan.  “Nic se goed”, is ‘n klassieke musiekprogram op RSG wat Sondae om 12:00 uitsaai en ‘n absolute gunsteling onder luisteraars is. In dié program speel hy sy persoonlike klassieke- en operaversameling voor en vervleg dit met kort stories en lewer sosiale kommentaar oor die alledaagse lewe. Dit is een van die gewildste programme op RSG wat aanvanklik slegs 13 weke sou duur. Die program is nou al meer as 9 jaar op lug met soveel as 450 episodes agter die rug.

Sy voorlessing van gedigte op RSG is gevul met tydlose skoonheid en diepte wat keer-op-keer die luisteraars in vervoering het.

As ‘n deurwinterde uitsaaier, stemkunstenaar, akteur, vervaardiger en fotograaf, is Nic waarlik ‘n Afrikaanse legend.